Sep 4, 2019

Rasse-beledigings in die werkplek

Kan ‘n werkgewer verantwoordelik gehou word vir rassistiese opmerkings wat deur ‘n kliënt gemaak is teenoor ‘n werknemer?

Hierdie vraag moes deur die Arbeidshof beantwoord word in die saak van Shoprite Checkers (Pty) Ltd v Samka en andere  [2018] 9 BLLR 922 (LC). Die werknemer het beweer dat daar teen haar gediskrimineer is op grond van ras nadat sy deur ander werkers van die werkgewer waar sy werk, geboelie, geviktimiseer en getreiter is. Sy beweer ook dat ñ kliënt rassistiese opmerkings teenoor haar gemaak het en dat bestuur niks daaraan gedoen het nie.

‘n KVBA kommissaris verwerp haar beweringe van treitering deur ander werknemers maar bevind dat Shoprite versuim het om die rassistiese uitlating van die kliënt behoorlik te ondersoek.

Shoprite is beveel om die werknemer ‘n bedrag van R75 000 as kompensasie te betaal.

Die maatskappy het teen die bevinding geappelleer.

Die hof het aanvaar dat die woorde wat deur die kliënt geuiter is, ‘n veragtelike rassistiese belediging is maar die vraag is, of die werkgewer verantwoordelik gehou kan word vir uitlatings deur ‘n kliënt.

Die hof merk op dat die Wet op Gelyke Indiensneming daarvoor voorsiening maak dat ‘n werkgewer verantwoordelik gehou kan word as sy werknemers teen ‘n ander werknemer diskrimineer en hy versuim om stappe te neem om rassisme te vermy. Hiermee word dit duidelik gestel dat Artikel 60 van die Wet net van toepassing is op gedrag van werknemers.

Die hof voeg by dat die werknemer ander remedies in terme van die gemenereg en ander wetgewing het.

Die appèl was suksesvol en die toekenning is tersyde gestel. Die werkgewer kon in hierdie omstandighede nie vir die gedrag van sy kliënt verantwoordelik gehou word nie.

Opgestel deur Otto Bronkhorst

Nasionale Bestuurder: Opleiding en Navorsing

012 8102011/0748946712