Aug 20, 2019

Toestemming binne die konteks van die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 4 van 2013

Die basiese konsep van toestemming, en sy hoofrol as ‘n potensiële wettige regverdigingsgrond vir die prosessering van persoonlike inligting, is ‘n konsep wat  grootendeels verkeerd verstaan ​​word as ‘n eenvoudige aksie om ‘n datasubjek te kry om “ja” te sê.

Dit is belangrik om daarop te let dat die konsep van toestemming regdeur die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (die Wet) voorkom. Die Wet definieer “toestemming” as:

“Enige vrywillige, spesifieke en ingeligte uitdrukking van die bedoeling van die datasubjek ingevolge waarvan toestemming gegee word vir die prosessering van persoonlike inligting.”

As daar nader na die definisie gekyk word is dit duidelik dat daar vier hooffokuspunte is. Hierdie fokuspunte sal ‘n onderneming help om presies te verstaan ​​wat nodig is wanneer geldige, wettige toestemming as regverdigingsgrond vereis word. Hierdie fokuspunte is:

  • Vrywillig
  • Spesifiek
  • Ingelig
  • Uitdrukking van wil

Vrywillig:

Toestemming sal nie geldig wees indien die datasubjek geen werklike en vrye keuse het, of nie toestemming kan weier of onttrek nie. Toestemming moet dus die datasubjek se werklike keuse weerspieël. As daar enige element van dwang of onnodige druk op die datasubjek is, sal toestemming nie geldig wees nie.

Spesifiek:

Die Wet is duidelik in sy bewoording dat die verantwoordelike party die doel waarvoor inligting versamel en verwerk word, moet definieer. Dit het tot gevolg dat die verantwoordelike party die omvang en die gevolge van die prosessering duidelik en presies moet verduidelik wanneer die verantwoordelike party ‘n datasubjek vir sy toestemming vra.

Ingelig:

Die vereiste dat die  datasubjek ingelig moet word, verbind die definisie met Artikel 18, waar die Wet vereis dat die doel van die inligting aan die datasubjek verduidelik moet word voor dit ingesamel word.

Vir toestemming om “ingelig” te wees moet die aard van die prosessering verduidelik word in ‘n verstaanbare en maklik toeganklike vorm, met behulp van duidelike en eenvoudige taal wat nie onbillike terme bevat nie.

Uitdrukking van wil:

Die definisie van toestemming bevat  die verdere vereiste ten opsigte van die “uitdrukking van wil” deur die datasubjek. Dit impliseer dat daar ‘n aktiewe of positiewe stap aan die kant van die datasubjek moet wees om aan te dui dat hulle ooreenstem met wat deur die besigheid voorgestel word.

Besighede kan nie aanvaar dat  toestemming verleen word waar die data subjek  versuim om te antwoord op  direkte bemarking pogings nie, tensy dit deel is van ‘n positiewe stap soos om aan te sluit vir ‘n diens.

Gevolgtrekking:

Aangesien toestemming so ‘n komplekse aangeleentheid is, is dit duidelik dat die Wet meer as net ‘n eenvoudige toestemmingsverklaring deur ‘n datasubjek vereis en sodoende sal daar definitiewe praktiese implikasies vir besighede wees waarvan elke besigheid hulself van moet vergewis.