Aug 20, 2019

Wysigings tot die Kodes van Goeie Praktyk

Op die 31ste Mei 2019 is die volgende wysigings tot die Kodes vir Goeie Praktyk deur die Departement van Handel en Nywerheid gepubliseer in Gazette 42496:

  • Skedule 1 van die Gewysigde Kodes van Goeie Praktyk;
  • Gewysigde Kode Reeks 000, Verklaring 000;
  • Gewysigde Kode Reeks 300, Verklaring 300;
  • Gewysigde Kode Reeks 400, Verklaring 400;

Die volgende is net sommige van die veranderinge wat ‘n effek op u Breë Basis Swart Ekonomiese Bemagtiging (BSEB) gradering.

Eerstens is dit belangrik om daarop te let dat die definisie van Absorpsie soos volg verander het:

  • “Absorpsie – beteken die meting van die Entiteit se vermoë om suksesvol langtermyn dienskontrak vir die werknemer, leerder, intern of vakleerling te verseker” 

Die nuwe definisie het tot gevolg dat verdere studies van die leerder, na afhandeling van die leerlingkontrak, nie meer gaan kwalifiseer as absorpsie nie.

In terme van die wysigings van Verklaring 300 (Vaardigheidsontwikkeling), is dit belangrik om kennis te neem van die volgende wysigings:

  • Die teiken vir vaardigheidsontwikkeling op nie-blanke persone is gewysig na 3.5% van jou salaris rol;
  • Daar is ‘n nuwe indikator wat spesifiek gemik is vir vaardigheidsontwikkeling uitgawes gespandeer op Beurse vir nie-blanke student by Hoër Onderwys Instansies.  Die teiken vir hierdie indikator is 2.5% van jou salarisrol;
  • Die teiken vir leerlingskap, internskap en vakleerlingskap is verhoog na 5% van jou totale werksmag;
  • Die indikator vir vaardigheidsontwikkeling uitgawes spandeer op werklose nie-blanke persone is uitgehaal uit die kodes;
  • Daar word ook in terme van vaardigheidsontwikkeling program matriks voorsiening gemaak vir studiebeurse aan nie-blanke persone;

Die belangrike wysigings in terme van Verklaring 400 (Ondernemings en Verskaffers Ontwikkeling wat insluit Voorkeur Aankope) is soos volg:

  • Die teiken vir BSEB Voorkeur Aankope spandeer op bemagtigende verskaffers wat ten minste 51% nie-blanke eienaarskap het, is verhoog van 40% na 50% van jou aankope;
  • Die punte op hierdie indikator is ook verhoog van 9 na 11 toe;
  • Nog ‘n wysiging wat ingebring is, is dat generiese entiteite wat 51% nie-blanke eienaarskap het wel kan kwalifiseer as Ondernemings of Verskaffer ontwikkelings begunstigdes.  Die generiese entiteit sal egter slegs kwalifiseer op voorwaarde dat ten tye van die eerste bystand wat deur kliënt aan hulle verleen is, hulle ‘n vrygestelde klein entiteit of kwalifiserende klein entiteit was.  Hierdie bepaling is ook slegs beskikbaar vir 5 jaar vanaf datum van eerste hulp verleen aan die generiese maatskappy deur kliënt.
  • Jou Ondernemings Ontwikkeling begunstigde mag nie deel wees van jou verskaffers ketting nie.  

Die wysigings wat gepubliseer is sal in werking tree binne 6 (SES) maande na datum van publikasie van die Gazette.  Dit beteken dat die wysigings van toepassing sal wees vanaf die 1ste Desember 2019.

Indien jy jou BSEB beplanning gedoen het en uitgawes aangegaan het in terme van die kodes soos van toepassing ten tye van jou finansiële jaareinde, is dit belangrik dat julle verifikasie pakket ingedien word voor die nuwe wysigings in werking tree.  Die bogenoemde wysigings sal in werking tree ongeag die besigheid se finansiële jaareinde.

Kontak gerus u SEESA BEE Regsadviseur indien u enige navrae het rakende die nuwe wysigings.